ALKOHOLMISBRUIK OORDENKINGREEKS – SMAG NA ALKOHOL (9)

Home » blog » Alkoholisme » ALKOHOLMISBRUIK OORDENKINGREEKS – SMAG NA ALKOHOL (9)

ALKOHOLMISBRUIK DINSDAG 3 SEPTEMBER 2024

Die smag na alkohol kan ‘n gevaarlike valstrik wees, een wat mense onwetend in sy greep kry, selfs diegene wat dink dat hulle veilig is. Paulus waarsku ons om versigtig te wees en nie te dink dat ons onoorwinlik is nie, want die val kom dikwels wanneer ons die minste verwag. Dit herinner ons aan die verhaal van ‘n suksesvolle geliefde onderwyser wat ook VGK ouderling was, wat uiteindelik alles verloor het as gevolg van alkoholmisbruik. Hy het geglo dat dit hom nooit sou oorval nie omdat hy volgens hom net ‘sosiaal drink’, maar toe hy begin dink dat hy staan, het hy geval.

Alkoholmisbruik ken geen grense nie en kan enigeen tref, ongeag geslag, ouderdom, ras, of geloof. Dit is ‘n stille en gevaarlike vyand wat mense stadig maar seker in sy greep kry. Vir sommige begin dit met sosiaal drink, maar dit kan vinnig ontspoor op ‘n verslawing wat nie maklik gebreek kan word nie. Die noodsaaklikheid om hierdie stryd ernstig op te neem, is belangrik, want die gevolge is verwoestend. Paulus se waarskuwing is duidelik: as jy dink jy staan vas, wees versigtig dat jy nie val nie. Dit is ‘n oproep om waaksaam te wees, om ons swakhede te erken, en om hulp te soek voordat dit te laat is.

Daar is egter hoop, selfs vir diegene wat voel dat hulle diep in die kloue van verslawing is. God se genade is groot, en Sy krag is sterk genoeg om selfs die ergste verslawing se kettings te breek. Dit begin met die erkenning van die probleem, die oorhandiging daarvan aan die Here, en die soeke na hulp. Daar is hoop en hulp vir die alkoholis, en deur Christus kan genesing, soberheid  en bevryding gevind word. Mag ons almal nederig wees, ons swakhede erken, en ons toevlug neem tot God se verlossende krag.

GEBED Hemelse Vader, ons kom na U met ons worstelinge en smag na alkohol. Ons erken ons swakhede en die gevaar wat voor ons lê as ons nie versigtig is nie. Here, gee vir ons die krag om ons probleme aan U oor te gee, om hulp te soek, en om die pad na herstel in te slaan. Ons bid vir almal wat vasgevang is in die greep van verslawing—mag U hulle vrymaak en nuwe lewe gee. Dankie dat U altyd by ons is, selfs in ons donkerste oomblikke. Ons vertrou in U genade en krag, in Jesus se Naam. AMEN.