KONFLIKHANTERING

Home » blog » Konflikhantering » KONFLIKHANTERING

HOE BEHOORT JY MET KONFLIK OMGAAN?

Konflikte is ‘n onvermydelike deel van die lewe, en hoe ons daarmee omgaan, kan grootliks beïnvloed hoe effektief ons in ons verhoudings en omstandighede funksioneer. Jy kan konflik op verskeie maniere benader: deur te fokus op die saak of die inhoud, of deur te fokus op die mense en die verhoudings. Iemand wat groot waarde heg aan die instandhouding van ‘n goeie verhouding, sal meer geneig wees om toegewings te maak as iemand wat hoofsaaklik op die beginsels of die inhoud fokus. Vir die laasgenoemde is die saak belangriker as die persoon.

Voordat jy in ‘n konfliktsituasie ingryp, is dit uiters belangrik om eers ‘n akkurate diagnose van die situasie te maak. Dit beteken om te bepaal wat presies aan die gang is en om seker te maak dat alle partye by ten minste die basiese feite saamstem. Dit is ook noodsaaklik om die onderskeid te maak tussen die aanleiding en die dieperliggende oorsaak van die konflik. Die ware oorsaak lê dikwels dieper en is minder voor die hand liggend as die onmiddellike aanleiding.

Konflikte het ‘n natuurlike neiging om te eskaleer (groter). Hoe verder ‘n konflik eskaleer, hoe moeiliker word dit om jou in te leef in die standpunt van die ander party. Dit lei tot ‘n situasie waar partye hulself al hoe meer vasbyt in hul eie standpunte en oortuigings, wat tot polarisasie lei. Om konflik effektief te hanteer, moet ons bewus wees van hierdie dinamika en probeer om empatie te behou, te kommunikeer en oop te wees vir kompromie.