GANGE VAN TOKKIES HET GEPRAAT
By Tokkies was dit nooit net ’n plek om te slaap nie – dit was ’n wêreld op sy eie. Ek het eers laat in my ouderdom daar ingetrek – tien jaar laat om presies te wees – maar darem betyds om in te val by die legendariese lewe tussen die gange van daai hostel. Volwasse leerling Dominees? Nie juis nie!!! Klaar gebreinspoel met stories van kamers wat getokkel is en ‘n kar wat glo in die eetsaal beland het. Die naam Zak Pienaar en Vasie het soos ‘n fluistering van ’n rebelse gees deur die gange gegons – die ongekroonde kampioene van tokkel en Pranks.

Maar ons het ook ons oomblikke gehad: spontane watergevegte, munstuk-visvang in die openbare telefoonhokkies, en ouens wat probeer klets én visvang gelyktydig. Niks bring nostalgie soos die klank van ’n muntstuk wat skoon verdwyn in die gleuf en ’n ou wat hoop hy vang iets met meer waarde as ’n gesprek nie.
Reg oorkant was die Ladies Hostel – ’n heiligdom van onbekende geheime en streng regulasies. Daai hostel moeders het soos Covid-curfews op bene gefunksioneer: elf-uur is die deure en yster veiligheids hek toe en dis dan net jy en jou drome oor daai meisie wat dalk, net dalk, terugloer. Een verlefde tokkie wou een nag net sy geliefde se gesig sien – maar roep is uit die kwessie (mens kan nie ‘n hele slaapblok wakker maak nie). Hy kies toe die diplomatieke roete: ’n klein klippie teen haar venster. Legende sê daai klippie het die venster gehaal. Nie net gehaal nie – deur! Vandag weet niemand wie die meisie was nie. Maar elke Tokkie onthou haar… en hy wat probeer het.
Verlief raak by Tokkies was ’n Bron van sappige gange stories! Nie alle verliefdes het sukses nie. Ek was self ’n serial flopper – nege meisies, nege teleurstellings. Ek het “Hurt” van die Manhattans met my hele hart gevoel. “Somebody new” was altyd net ’n bietjie vinniger as ek. Party ouens het darem probeer, al was hulle nie eintlik talentvol nie. Ek onthou een spesifieke aand toe ’n van-natuur-onverliefde Tokkie besluit vanaand is sy aand. Hy sing al van die stort af: “Stuck on you” – met oortuiging. In die stort raak hy nostalgies met Teddy Pendergrass se “Turn off the Lights”. Maar toe hy uitkom en Betty Wright se “Tonight is the Night” oor die kassetspeler speel, en kliphard saam sing… toe weet ons: dis serious.
Maar toe vat hy dit na ’n ander vlak toe hy ‘n half ’n blikkie Old Spice op homself uitspuit onder sy blaaie en ander strategiese plekke. Ek moes agter hom staan met my T-hemp om die oorskiet te vang. Ek en Allistaire besluit dis ons plig om te gaan ondersoek instel – waarheen is dié man nou oppad? Dis belangrik, want by Tokkies het jy nooit uitgepraat oor wie jou meisie is nie – dis gevaarlik. Jy weet nooit watter ou soek ’n nuwe teiken nie.
Ons volg hom – skelm agter die bome, soos ’n James Bond movie. Deur die klein hekkie van Ladies One, maar hy gaan nie in nie. Ons dink toe: dalk Coleen Williams, dalk Khaya. Maar toe… draai hy af na Basil Feb. Eers dink ons: dis ’n nuwe trick! Maar nee. Hy klop nie, hy glip in. Toe ons hom volg, ontdek ons… ’n kamer vol ouens. Ja-nee, die man het net gaan kuier – by vriende. Ons het hom darem vir ’n volle week laat weet ons weet, sommer by die ontbyttafel met ’n spottende “Tonight is the Night” op die lippe.
Maar nie alles was net geflop of geheime besoeke nie. Party ouens het regtig moeite gedoen. Soos daai ou wat ’n taxi Bellville toe gevat het net vir Tjoklit, Beechies en Biltong – ’n romantiese versameling vir die meisie van sy drome. Toe hy terugkom, sing hy al in die stort: “Jy alleen Jy! kan my liefde verstaan…” En toe daai Hugo Boss blikkie uitkom, weet jy – hy’s oppad sewende hemel toe. Hy loop op “You” se wysie reguit na Ladies One – selfversekerd, soos ‘n man met ‘n missie.
Tot hy by haar kamer instap… sien daar op haar bed lê ’n ander Tokkie, op sy maag, bene in die lug, besig om die biltong te eet wat ons romantiese held so sorgsaam gekoop het! Met ’n knipmessie nogal, en ’n gesig wat sê: “Hierdie is biltong uit Bellville en ek geniet elke stukkie.”
Daai aand was daar stilte. En vir ‘n paar dae daarna het ons held maar eerder stil eetsaal toe gesluip. Want by Tokkies bly niks geheim nie – nie liefdes nie, nie lagstories nie, en beslis nie biltong-dramas nie.
2 thoughts on “Tokkies: Liefde, Lekkerlag en ‘n Hele blik Old Spice”
Van n 1986 er tot 1989 er
Ek het jou net gemis …1990 – 1995
Comments are closed.