ALKOHOLMISBRUIK MAANDAG 26 AUGUSTUS 2024
ROMEINE 14 VERS 21 “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”

In die antieke tye, toe water dikwels onrein en ongesond was om water te drink, het wyn en ander alkoholiese drankies ‘n belangrike rol gespeel in die daaglikse lewe. Mense het dikwels wyn gebruik omdat dit, as gevolg van die fermentasieproses, veiliger was om te drink as onbewerkte water. Die wyn in antieke tye het dan ook lae persentasies alkohol gehad. Tog het Paulus mense gewaarsku teen die gebruik van alkohol as dit ander tot struikeling kan bring. Hierdie teks herinner ons dat ons verantwoordelik is vir ons dade en die impak daarvan op ons medegelowiges.
Alhoewel wyn ‘n noodsaaklike deel van die antieke dieet was, het dit gou meer geword as net ‘n manier om dors te les. In verskeie kulture en religieuse rituele het wyn ‘n simboliese betekenis gekry, wat dikwels verband gehou het met vreugde, viering, en selfs spiritualiteit. Maar die misbruik van hierdie “geseënde” drank het gelei tot groot probleme in die samelewing. Mense het gou besef dat, hoewel wyn en ander alkoholiese drankies aanvanklik as heilig beskou is, hulle ook ‘n donker kant gehad het. Dit het siektes, gebroke verhoudings, en selfs maatskaplike onrus veroorsaak.
As Christene word ons geroep om wysheid en matigheid te beoefen. Paulus herinner ons daaraan dat ons vryheid om wyn of ander drankies te gebruik nie ‘n reg moet wees wat ons uitoefen ten koste van ander nie. In plaas daarvan moet ons onsself ondersoek en ons optrede rig volgens die liefde en verantwoordelikheid teenoor ons medemense. Ons word geroep om ‘n lewe te lei wat nie net ons eie geestelike gesondheid bevorder nie, maar ook die van diegene om ons. In ‘n wêreld waar die misbruik van alkohol steeds verwoesting saai, moet ons getuig van ‘n beter manier—die manier van matigheid, respek, en liefde. My aanbeveling is stop geheel en al met alkoholiese drank en doen liewer iets anders met jou geld en tyd, tot die voordeel van jou naaste.
GEBED Hemelse Vader, ons dank U vir die voorsiening van elke goeie geskenk, maar help ons om hierdie geskenke met wysheid en matigheid te gebruik. Bewaar ons van die verleiding om meer te neem as wat goed is vir ons, en gee ons die krag om ander lief te hê deur ons optrede. Lei ons om ‘n voorbeeld te stel wat ander sal opbou, en help ons om nooit ‘n struikelblok vir ons broers en susters te wees nie. In Jesus se Naam bid ons, AMEN